Morfologie (taalkunde)

Morfologie is die studie van die vorm-betekenissisteem van gelede woorde (komplekse). Morfologie identifiseer, analiseer en beskryf die struktuur van 'n gegewe taal se morfeme en ander linguistiese eenhede, soos onafhanklike eenhede (of stamme), affikse, woordsoorte en ook die konteks van 'n woord.

Morfologie is 'n tak van die linguistiek wat die patrone van woordvorming binne en oor tale bestudeer en wat poog om reëls te formuleer volgens die geïdentifiseerde patrone van 'n taal. Die patrone wat in die taal voorkom is as gevolg van die sprekers se kollektiewe kennis en gebruik van die taal. Dit is byvoorbeeld vir 'n Afrikaanse spreker duidelik dat die woorde groot, groter, grootste, grote, grootte, grootbek ens. verwant is.

Afrikaanse sprekers herken die verhouding oor die algemeen uit hulle onderliggende kennis van die reëls vir woordvorming in Afrikaans. Hulle kan byvoorbeeld intuïtief aanvoel dat groter teen groot staan soos kleiner teenoor klein staan; net so is groot verwant aan grootbek op dieselfde manier as wat klein verwant is aan kleinletter. Die reëls wat deur die spreker verstaan word manifesteer spesifieke patrone in die manier waarop woorde gevorm word uit kleiner eenhede en die verhouding tussen daardie kleiner eenhede.


© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search